• 013 235 2077
Waar elke kind vlerke kry om te vlieg en wortels om te groei/Where every child gets wings to fly and roots to grow

Ons juniorkoor word al vir 8 jaar deur Suzaan afgerig en oefen vanaf Januarie tot Oktober 2 keer ‘n week voor skool. Die grootste uitdagings met ‘n juniorkoor is om koorlede se aandag by die dirigent te hou vir die volle duur van optrede en om koorlede te leer hoe om met die korrekte tegniek saam met ander te sing.

Alhoewel daar van juniorkore verwag word om slegs eenstemmig te sing, het Laerskool Lydenburg se juniors reeds die tegniek bemeester om in 2 afsonderlike stemme te sing. Dit verg besonderse intonasie en konsentrasie vir sulke jong koorlede.

Die juniorkoor het 90% verwerf by die Nelspruit Eisteddfod, waar Richard Cock die beoordeelaar was. Hy is die aanbieder van Songs of Praise regoor die land en ook die dirigent van die Johannesburgse simfonie-koor. Die seniorkoor is onder leiding van Suzaan vir die laaste 5 jaar. Oefeninge is regdeur die jaar van Maandag tot Vrydag voor skool. Daar word ook 4 koornaweke gehou in die loop van die eerste 2 kwartale. Dit is veral tydens hierdie koornaweke wat daar reuse vordering gemaak word met die instudering van nuwe musiek.

Vir die kore van Laerskool Lydenburg is die hoofbeginsel dat liedere ‘n boodskap moet uitdra aan die mense wat daarna luister. Toegewyde koorlede, koorouers en koorpersoneel, goed gebalanseerde liedkeuses en harde werk is faktore wat bydra tot die sukses van ‘n koorjaar.

By die Nelspruit Eisteddfod het die seniorkoor met ‘n fenominale 94% weggestap. Dit is die hoogste punt wat op dié dag aan ‘n koor toegeken is. Daar is veral melding gemaak van die tegniese vaardigheid en dissipline waarmee hierdie koor sing. Dit is ‘n baie besondere prestasie, veral gesien in die lig van die internasionale ervaring wat die beoordelaar, Richard Cock het.